Algemene oorsig

Die oorspronklike plaas van 846 hektaar is na toestemming deur Departement van Landbou, onderverdeel in twee titelaktes van onderskeidelik 598 en 248 hektaar.

Kliek hier vir die kaart soos opgemeet deur die landmeter.

Kliek hier om te kyk na die kaart van die plaas in geheel (altwee dele)

Ligging

Die plaas is geleë in Smithfield distrik, 15 km buite die dorp op die Bethulie pad (R701)

Afstande

  • Na Bloemfontein: 150km (N6)
  • Na Aliwal Noord: 80km
  • Na Bethulie: 50km
  • Na Trompsburg: 90km
  • Na Smithfield: 15km teerpad + 3km grondpad

Topografie

Hoogte bo seevlak: gemiddeld 1500 meter
Die plaas is ongeveer 40% bergveld met baie ysterklippe en 60 % vlakteveld. Daar loop ’n nie-standhoudende spruit uit die berg wat ontspring uit drie hoof vertakkings. In die vlakteveld vloei nog 2 spruite in hierdie spruit in.

Plaasopstal

Die woonhuis beslaan ’n oppervlakte van ongeveer 300 m2. Langs die woonhuis is ’n dubbel motorhuis met twee buitekamers. Dié gebou en woonhuis het Harveytile dakke. Daar is nog ’n staalkonstruksie wat twee buitekamers van elk 27 m2 vorm. Die een is oop aan die een kant wat gerieflik werk vir o.a. slag van bees en wild. Die kamer langsaan het siwwe en is ingerig vir vleisbewerking. Die steengeboude skuur is 6 meter wyd en 18 meter lank. Die sinkstoor is 6 meter wyd en 9 meter lank. Die antieke klipskuur is 6 meter wyd en 22 meter lank. Al 3 skure het alarmstelsel.

Ongeveer 15 meter vanaf die klipskuur is ’n nuut geboude woonstel van 57 m2. Dit is ongeveer 120 m vanaf die woonhuis en is nie binne die erf van die woonhuis nie. Die woonstel het sy eie elektriese heining van 80 m rondom. Dit het een slaapkamer, ’n woonkamer, kombuis en volledige badkamer. Dit het ’n son waterverwarmingstelesel. Die woonstel het ’n goeie alarmstelsel asook interkom verbinding met die woonhuis. Rondom op die heining is 5 afstandbeheerde liggies vir effektiewe beligting.

Ongeveer 150m vanaf die woonhuis is ’n steengeboude arbeidershuis (staalkonstruksie). Dit is 24 m2 en het ’n houtstoof en sinkwasbak in die kombuis. In die slaapkamer is ’n kaggel en tussen die 2 vertrekke is ’n stort. Die waterverwarmingstelsel werk met hout. Daar is ’n buite toilet. Die huis het elektrisiteit en het interkomverbinding met die woonhuis.

Die woonhuis het 3 slaapkamers, 1 volledige badkamer, 1 toilet, gang, kombuis, spens, opwas, klein en groot eetkamer, werkskamer, kantoor en sitkamer. Daar is ’n heerlike stoep aan die oostekant, die hele lengte van die huis en beslaan ongeveer 60 m2. Die stoep is pas nuut oorgedoen – sien foto’s. Die huis het ’n son waterverwarmingstelesel met spesiale en effektiewe kragbesparings meganismes. Die huis, motorhuis en skure het ’n goeie alarmstelsel met onmiddellike selfoonkennisgewing in geval van alarm.

Die ingang na die erf het ’n elektriese hek met afstandbeheer en het ’n 12V bystand battery. Daar is ’n  sekuriteitskamera met skerm in die huis. Daar is ook ’n interkom verbinding van die hek na die huis asook die woonstel.

Die heining is ongeveer 300m in omtrek om die huis en sluit die noordekant van die steen skuur se deur in. Daar is interkom verbinding tussen dié skuur en huis. Die noordekant van die skuur word as werkswinkel gebruik (Gereedskapborde, bankskroef, 3 x 4.5m rakke). Binne die erf, naby die agterdeur is twee baie goeie hondehokke met elk ’n geboude slaaphok en elk het elektrisiteit in vir hitte in die winter. Die hele erf is goed belig. Daar is 3 spreiligte. Teen die huis is 8 buiteligte. In die tuin, naastenby al om die heining is 13 liggies en 8 liggies buite die erf teen die helling van die berg, wes van die huis. Die liggies skakel aan en af met 3 dag-nag skakelaars. Sien foto’s wat liggies wys.

Die hele elektriese toevoer het ’n enjin as bystandstelsel. Oorskakeling na eie  kragvoorsiening is vinnig en maklik.
Die tuin is baie goed gevestig en die foto’s sal spreek vanself. Die hele tuin se besproeiingstelsel is nuut oorgedoen in September 2009 en is gerekenariseer. Met die oopdraai van ’n kraan kan die fontein noord van die erf se water deur die tuin loop. Sien waterval op foto.

KLIEK HIER VIR TUIN FOTOS

Die vrugte- en groentetuin is nog nie klaar soos beplan was nie. Die potensiaal is egter daar om vir ’n groot deel van die jaar grootliks selfvoorsienend te wees. Turksvye aard baie goed hier en die 5 turksvybome groei welig in ’n 80 m2 sifdraadhok.  Druiwe aard ook baie goed hier. Die 8 verskeie soorte druiwe-stoele staan reeds 12 jaar en floreer in hulle skadunet hok.

Die druiwe en turksvy hokke het ligte in vir gerief ingeval mens saans wil gaan pluk.
Die water vir die huis en tuin kom van 2 boorgate. Die waterstelsel is verbeter deur die jare en is nou hoogs effektief en feitlik onverbeterbaar. Net bokant die boorgate is ’n gronddam wat die boorgate versterk of help voed.

Gesien in geheel is hierdie plaasopstal waarskynlik die effektiefste en mooiste in die distrik van Smithfield en sal ook onder die bestes gereken word in Suid-Afrika, veral wanneer ook na die ligging gekyk word. Die uitsig na alle windrigtings is besonders mooi. Die berg noordwes van die huis bied baie goeie wind beskutting. Ribbokke kom dikwels tot naby die erf en soms ook Koedoes.

KLIEK HIER VIR ALGEMENE FOTOS

Reënval

Kliek hier vir die maandelikse reënvalsyfers sedert Januarie 1997, soos gemeet by my huis (98% akkuraat) Hael kom baie selde hier voor. Sommige winters kom sneeu voor wat meestal binne 24 uur smelt.

Temperature

Die grootste deel van die jaar is die temperatuur heel aangenaam. Somer dae kan uiterstes van 35ºC bereik, maar 30ºC is normaal. Wintersnagte daal baie selde laer as -2ºC, maar 3ºC is normaal.

Plantegroei

Olienhoutbome; kareebome; koeniebosse; wit stinkhout bome; slangkop aalwyne;
Daar is feitlik geen ongewensde plante nie en geen indringer plante nie.

Wildelewe

Permanente inwoners:

  • Rooi ribbokke (Redunca fulvorufula)
  • Kolhase
  • Dassies
  • Rooijakkalse
  • Skilpaaie
  • Likkewane
  • Verskeie voëlsoorte

Besoekers:

  • Koedoes
  • Bobbejane
  • Steenbokke
  • Rooikatte

Weidingskapasiteit

  • 7 Hektaar per grootvee-eenheid
  • 1.17 Hektaar per kleinvee-eenheid

Smithfield distrik is hoofsaaklik ’n tuiste vir skaapboerdery en tweedens beesboerdery.
Die topografie en plantegroei is ideaal vir ‘n groot verskeidenheid boksoorte. Op 2 wildsplase in die omgewing is selfs kameelperde. Zebras sal ook tuis voel hier. Die weiding kan beskou word as baie gesonde weiding en ‘n goeie balans tussen verskillende grassoorte. Eetbare bossies maak 10 – 15 % van die weiding uit, met grasweiding die res. Daarbenewens word struike en olienhoutbome ook soms deur diere geëet.

Water

Die betrokke grond het 4 boorgate: Reg onder die damwal by die huis is ’n dompelpomp en windpomp, in die vlaktekampe ’n windpomp en ’n ander windpomp suid-wes van die huis, ongeveer 200m noord van die pad wat ook die nuwe grens is tussen die 2 plase. Al drie windpompe het goeie sementdamme vir veesuipings daarvandaan. Die sementdam by die huis voorsien ook die tuin van water (na die sentrifugale pomp gekoppel aan gerekenariseerde stelsel)

Kampe

Die bestaande buiteheining is 1.2m hoog met 13 doringdrade. Dit sal nie voldoende wees om wild binne te hou nie. Die vlaktekampe is twee kampe van 145 en 165 hektaar. Die bergkamp is 198 hektaar. Die nuwe grens padlangs verdeel twee kampe. Die oorblywende 2 dele sal saam ’n 64 hektaar kamp vorm. Die sinkskuur staan in ’n 10 hektaar kamp. Weerskante van dié kamp is nog ’n 6 en 10 hektaar kamp. Alle kampe het voldoende drinkwater uit goeie krippe.

Telekommunikasie

Smithfield distrik word nie deur outomatiese telefoonlyne bedien nie. Plaastelefoonlyne is tans die enigste beskikbare landlyne. Selfoonontvangs is geen probleem nie en internet d.m.v. selfoonnetwerke lewer goeie spoed. Dele van die distrik word deur “Wireless Internet” bedien en kan ook hier bekom word.

Toegangspaaie en Verkeer

Die pad wat oos-wes loop lei na een aangrensende plaas. Die plaas word slegs deur plaasarbeiders bewoon. Die verkeer na die plaas is minimaal en baie dae van die week is daar geen voertuie wat hier beweeg nie.
Die afstand vanaf die teerpad na die opstal is 3.5 km. Die R701 is waarskynlik een van die beste teerpaaie in Suid Afrika. Dit is in 1970 deur Italiaanse kontrakteurs gebou is steeds in baie goeie toestand. Wanneer die wind oos waai, wat baie min gebeur, sal U die min verkeer op die pad kan hoor, net om herhinner te word dat U nie alleen op die planeet woon nie!

Kliek hier om na die paaie te kyk.

Die dorp Smithfield

Smithfield sal volgens algemene standaarde klassifiseer as ‘n klein dorp. Dit dra baie van die groot verkeer op pad na Oos Londen. Die dorp het ‘n Caltex vulstasie met werkswinkel en ‘n Engen vulstasie wat behoort aan die OVK koöperasie. Verder het Smithfield ‘n polisiestasie en provinsiale hospital, met ‘n dokter, asook ‘n privaat dokter. Die dorp het verskeie gastehuise en 2 restaurante. Daar is 2 kafees, ‘n kafee/supermark en ‘n groot supermark met hardeware afdeling. Laasgenoemde hou nie vars produkte aan nie. Vars produkte is verkrygbaar by een kafee en kafee/supermark.
Vir groter inkopies is Aliwal-Noord ‘n beter opsie. Daar is ‘n Checkers en Rite Value supermark. Die naaste Woolworths is in Bloemfontein.

Plekke van belang binne bereik

35 km: “Tussen-die-Riviere” provinsiale Wildreservaat. Die reservaat is in die “driehoek” waar die Oranje- en Caledonrivier inmekaar loop.

150 km: Hendrik Verwoerd Dam (Gariep Dam)

Verkorte verkoopsvoorwaardes

’n Deposito is betaalbaar tydens die teken van die koopooreenkoms. Die balans is betaalbaar 1-2 jaar na die teken van die koopooreenkoms. Die eienaar wil ten minste een jaar nog die opstal okkupeer om tyd te hê om ’n nuwe huis te bou op die 248 hektaar gedeelte. Die balans is betaalbaar voor die nuwe eienaar okkupeer en moet nie later as 2 jaar na die teken van die koopooreenkoms betaal word.

My nuutste aanbod: U kan die hele 846 hektaar koop vir R9000000 btw ingesluit. Kontak my vir besonderhede. Die 248 hektaar gedeelte was eers alleen in die mark. Dit bied groot geleenthede vir 'n privaat ontwikkeling van 'n paar wonings.

Prys

R7000000   btw ingesluit  /  R9000000 btw ingesluit     Onderhandelbaar

Kontakbesonderhede

Robbie Kingsley
Telefoon: 083 388 3675  (verkieslik saans 7 – 10)

of gebruik die Kontak Vorm hier

Terug na Bo